Swartland
Jou bron van goeie nuus

Beeldhouwerk is haar passie

Baie mense ken vir Maré Louise Smit van Moorreesburg as ‘n boorling, ‘n boer se vrou, ‘n ma en as onderwyseres en skoolhoof van onder meer Klein Karingmelkvlei Primêr. Min weet egter dat sy daarby ‘n talentvolle en dinamiese beeldhoukunstenaar is wat eersdaags, ná jare weer haar werk in ‘n galery gaan uitstal.

Smit het in die laaste ses jaar van haar onderwysloopbaan geen kunswerke aangepak nie. Nou, ná 26 jaar as ‘n onderwyseres, streef Smit haar passie voluit ná.

Haar talent as kunstenaar het van ‘n jong ouderdom af deur begin skemer. Volgens Smit, het sy eerder die onderwysers se hande geteken, as om regtig na die les te luister, skerts sy. Haar kunstalent kom van haar ouma’s af, terwyl haar ma se ma, ouma Louise Joubert, van Malmesbury, die geleentheid gehad het om na skool by die Dresden School of Fine Arts in Duitsland te gaan studeer. Haar ouers het op hul beurt haar passie vir kuns ten volle ondersteun en haar kreatiwiteit help ontwikkel, hoewel sy destyds steeds versoek is om iets “agter haar naam te kry”, vertel sy. Sy het onderwys by Dennepoort Onderwys Kollege, nou Boland Kollege, studeer. Haar pa het egter ‘n belofte aan haar gemaak dat hy dit wel moontlik vir haar sou maak om haar passie vir kuns steeds ten volle te kan uitleef. Sy het direk na haar onderwysopleiding, plek by die gesogte Ruth Prowse-kunsskool in Woodstock gekry en haarself, as ‘n plattelandse meisie, in die wêreld van die kunste bevind.

Sy is daar aan alle vorme van kunste blootgestel. Haar liefde vir beeldhouwerk het egter voorkeur geniet.  Sy het aanvanklik eers beeldhouwerk- en pottebakkeryklasse vanuit hul huis op die plaas begin aanbied,  kort nadat sy met haar man, Jannie Smit, getrou het. Kort voor lank, aanvaar sy ‘n pos by ‘n skool reg langs hul plaas, Volstuisdrift. Kunswerk was steeds haar passie, maar het stelselmatig begin tweede viool speel.

Smit het uiteindelik as hoof daar klaargemaak toe die skool gesluit het. Daarna is sy na Klein Karingmelkvlei Primêr waar sy sowat drie jaar gelede besluit het om permanent uit die onderwys te tree en die kunswêreld met groot ywer wéér te betree.

Haar eerste uitsalling was destyds in ‘n vriendin se huis, terwyl haar eerste groot uitstalling in die Drostdy-Hof op Tulbagh was.

Talle uitstallings het daarná gevolg, soos onder meer by die Mandela Square en die Bay Hotel, waar een van haar kunswerke vandag nog pronk. Smit spog  ook met talle beelde in privaat kolleksie van reg oor die wêreld. Sy het stelselmatig haarself deur uitstallings begin bemark, asook op kommissiebasis beelde vir kliënte gemaak.

“Ek moes maar leer om met my goed te gaan smous,” lag sy. Soos die skoolwerk meer geraak het, so het haar kunswerk begin agter raak, hoewel dit nie meer die geval is nie. Smit werk in verskeie mediums, soos siment fondu, klei, draad, klip, brons en geelkoper. Sy bring graag verskillende soort klippe van oral af huistoe waar haar ateljee in hul huis op Moorreesburg is.

Haar beelde varieer ook van ‘n paar sentimeter groot tot oor die twee meter hoog. Sy erken dat beeldhouwerk baie fisies van aard is en soms kan ‘n gewrig of spier in die slag bly, maar dit het haar nie gekeer om voort te gaan nie.

Haar inspirasie is mense en hul lyftaal.

Sy het ook al ‘n solo-uitstalling, genaamd Lyftaal aangebied. Smit het ook onlangs weer begin kunsklasse gee vir oud en jonk. Sy het reeds baie talent in haar klasse raakgesien en is opgewonde oor hul toekoms.

Tyd speel tans ‘n groot rol in haar lewe. “Tyd is op die oomblik vir my kosbaar en die verandering in tyd rondom my, is ‘n faktor.” Sy het daarom besluit om haar solo-uitstalling, Tyd te noem. Dit is ook haar eerste uitstalling in sewe jaar. Die uitstalling bestaan uit 40 stukke wat eersdaags vanaf 1 tot 10 November by die Die ARTSQUARE GALLERY (Pampoenhuis) in Langebaan te sien sal wees. Sy het as deel van haar uitstalling begin deur vintage speelgoed en poppe, onder meer een van haar eie ou babapoppe, te maak. Die beeldhouwerk was vir haar betekenisvol, omdat ons, volgens haar in ‘n wêreld van verskille lewe. “Eintlik maak ons almal ‘n spoor op hierdie Aarde en dit bind ons universeel,” verduidelik sy. Een van haar gunsteling beelde, wat in brons gegiet is, is sekerlik twee ballerinas, omdat haar kleindogter nou ballet doen en sy eens op ‘n tyd ook dit gedoen het. En wanneer sy nie aan ‘n beeld werk nie, bevind sy haarself in die natuur, besig om die buitelewe te benut, wat haar behoorlik herlaai en van voor af kreatief maak.

 Smit sien uit na wat die toekoms vir haar kunswerk inhou en nooi alle belangstellendes uit om die galery vanaf 1 November om 18:00 te kom besoek. Die galery is daagliks oop vir besoeke tot die 10de November. Vir navrae, skakel 0828538187.

Darling Sweet smaak soete sukses in kompetisie

Die eienaars van Darling Sweet, ‘n unieke fabriek en winkel op Darling, verantwoordelik vir die produsering van besondere en hoë-kwaliteit toffieprodukte, het pas saam met 18 ander besigheidseienaars en entrepreneurs landwyd  van Amsterdam teruggekeer.

Frits van Ryneveld en Hentie van der Merwe van Darling, het onlangs besluit om vir ‘n kompetisie in te skryf vir ‘n geleentheid om globale blootstelling te ontvang, maar ook blootstelling tot ander suksesvolle maatskappye wat op internasionale vlak floreer, te verkry.

Volgens Van Ryneveld, wat saam met Van der Merwe dié toffiefabriek en later kunsgalery in Septemebr 2013 op Darling oopgemaak het, het hy deur ‘n vriendin van dié kompetisie gehoor, wat deur Investec aangebied word, in samewerking met die maatskappy, Ennovate, wat dit hul missie maak om plaaslike besighede globale blootstelling te gee.

Investec en Ennovate bied ‘n globale entrepreneurskap blootstellingsprogram aan, waarvoor Darling Sweet in die Voedsel en Drank-afdeling gekwalifiseer het.

Dié toffiemagnate se onderneming is ook slegs een van twee ondernemings vanuit die Wes-Kaap wat vir die program gekwalifiseer het.

“Ons is nogal trots daarop,” sê Van Ryneveld beskeie. Die kriteria het onder meer vereis dat belangstellendes ‘n entrepreneur moet wees en ‘n besigheid moet besit, asook meer as 10 personeellede in diens hê, waarvan Darling Sweet reeds 22 personeellede het.

Die eienaars van Darling Sweet is op 11 Oktober na Nederland gevlieg, waartydens hulle plaaslike maatskappye in die voedselbedryf van Amsterdam besoek het.

Die toer het van die 11de tot die 18de Oktober geduur.

Dit was Donderdag hulle laaste dag. Hy beskryf dit as ‘n ongelooflike geleentheid.

“Dit was ‘n baie besige week.

"Ons het baie rondgehardloop en rondgery.

"Daar was nie baie geleentheid vir verkenning van die stad en om sosiaal te verkeer nie,” brei Van Ryneveld verder uit oor die hele ervaring.

"Jy gaan kyk eerlikwaar wat in die res van die wêreld aangaan en hoe dit werk.”

Die toer het hulle agter die skerms van maatskappye en hoë-profiel eienaars geneem. Hulle het saam met ‘n groep mense getoer en gewerk, wat hoofsaaklik bestaan het uit ander entrepreneurs van reg oor Suid-Afrika, nes hulle.

Volgens hom het dit hulle die geleentheid gegee om oor die uitdagings van ‘n entrepreneur te gesels en het ook wenke onder mekaar gedeel van hoe om sekere uitdagings aan te pak.

Hy vertel verder dat hulle na die “mees wonderlikste restaurante” geneem en is onder meer ook aan die konsep, “Farm to Table” bekend gestel is, waar die kos gepluk word en net daar en dan gaar gemaak en voorberei word.

Verskeie besighede is besoek, terwyl hulle aan ‘n verskeidenheid konsepte blootgestel is wat nie bekend in Suid-Afrika is nie, maar wat wel suksesvol is.

Sean Malana van Investec en Barry Maurice van Ennovate het die toer en besoeke begelei. Gedurende hulle besoek, was die groep na die African Diaspora Entrepreneurship Round Table-geleentheid genooi, wat hulle bygewoon het en bestaan basies uit voormalige Afrikane vanuit Suid-Afrika en Afrika, wat nou in Nederland woon.

Darling Sweet kyk daarna om na Nederland te begin uitbrei, hoewel hy sê dit ‘n groot stap is. Hulle voer tans na Nigerië, Namibië, die Maagd Eilande en Reunion Eiland.

“Ons voer nog nie op ‘n groot skaal uit nie en is nog in die oefenstadium,” beskryf hy Darling Sweet se uitvoermark.

Hy sal die program vir alle entrepreneurs aanbeveel. Hulle het baie geleer en terug huistoe gebring, wat uiteindelik vir Darling Sweet verder sal vestig, nie net op internasionale vlak nie, maar ook plaaslik.

Nuwe gesig vir Malmesbury se bekende Standard Bank

•Charlotte Lesch

“Standard Bank Malmesbury kry ‘n vars, nuwe gesig.”

Só beskryf Willie du Plessis, hoof van handel en besigheid by Standard Bank dié plaaslike tak se verskuiwing na ‘n nuwe perseel.

Die plaaslike tak groet hul huidige perseel waar daar al vir glo byna ‘n eeu lank sake gedoen word.

"Die nuwe tak sal oor twee weke, op 4 November, in Voortrekkerstraat 62 sy deure open", het hy verlede week bevestig.

Dít was die voormalige perseel van Edgards, wat vroeër vanjaar sy deure gesluit het.

Volgens hom het die bank op ‘n alternatiewe perseel besluit wat meer geskik is om hul kliënte te diens.

Standard Bank Malmesbury huisves persoonlike en besigheidsbankiers, wat landbou ook insluit, asook finansiële beplanning en versekering.

Hy kon ook bevestig dat daar geen onderbreking in dienste tydens die verskuiwing na die nuwe perseel sal wees nie.

Die perseel word tans ingerig, terwyl die huidige perseel operasioneel sal bly tot 2 November.  Kennisgewings word reeds in die bestaande tak aangebring, sodat kliënte ingelig is rondom die groot verandering en dus die nuwe perseel.

"Die nuwe tak is op een vlak, wat toegang en beheer vergemaklik", vertel Du Plessis.

Daar sal steeds teller-kontantdienste aangebied word, hoewel daar nou alternatiewe dienste op hul kliënte wag wat die selfdiensopsie verkies waartydens kontant elektronies gedeponeer kan word.

“Dit is gerieflik, veilig en die kostes is laer,” het Du Plessis verduidelik. Daar is twee nuwe OTM-masjiene wat aangebring is, asook ‘n Autoplus by die nuwe tak.

"Kliënte kan verder uitsien na nuwe byvoegings saam met die nuwe tak, soos onder meer ‘n digitale rekening.

“Ons stel ook Mymo, ‘n nuwe digitale rekening teen R4.95pm bekend, met gratis data of lugtyd en ‘n goue kaart vir aankope en ontrekkings.

"Die Standard Bank Ucount-lojaliteitsprogram word hieraan gekoppel,” brei Du Plessis uit.

“Met Standard Bank se Snapscan op jou foon, kan betalings in sekondes gedoen word.”

Volgens hom, is Malmesbury se bestuur en personeel baie opgewonde oor die skuif en nooi die Malmesbury-gemeenskap uit om by hul nuwe tak in te loer.

Du Plessis kon nie bevestig hoeveel jaar Standard Bank in hul huidige perseel in Kerkstraat werksaam was nie.

Capitec Bank het onlangs ook hul eie nuus bekend gemaak nádat die plaaslike tak besluit het om van perseel te verander.

Capitec Bank Malmesbury, sal eersdaags vanaf Desember, indien alles volgens plan verloop, dienste vanuit hul nuwe perseel in Voortrekkerstraat, ook waar die voormalige Edgars-tak geleë was, doen.

Intussen het Studio 88, 'n landswye sportklere-kettingwinkel, ook op die perseel sy deure oopgemaak.

Die voormalige perseel, soos wat deur kliënte van Edgards onthou sal word, is heeltemal omskep en verdeel om dié nuwe intrekkers te akkommodeer.

Malmesbury reg vir skou

Die hekke tot Malmesbury-skou, een van die grootste geleenthede op die plaaslike agenda, maak oor minder as agt dae oop.

Die landbouskou wat vanjaar vanaf 24 tot 26 Oktober by die plaaslike landbougronde plaasvind, is reg om besoekers te ontvang.

Die skou skop op 23 Oktober af met ‘n geleentheid eksklusief vir die skoner geslag, wat oor die jare heen as ‘n gunsteling geleentheid onder die vroue bestempel word. Hoewel die geleentheid nog al die jare in die vorm van ‘n damesoggend plaasgevind het, het hulle verlede jaar ‘n kinkel in die kabel gegooi deur ‘n damesaand aan te bied.

Vanjaar se geleentheid beloof hope pret en plesier te wees met Mike McCully en The Harmonix as gaskunstenaars wat ‘n huldeblyk aan die musiekgroep, ABBA, gaan doen.

Die jaarlikse jeugskou, aangebied deur die Wes-Kaapse Jeugskoustigting, raak elke jaar net groter en groter.

Kom kyk hoe die jeug hulle beste voet voor sit, wanneer hulle plaasdiere op 24 Oktober om 13:00 gaan hanteer.

Die geleentheid sluit die hantering van diere, asook diereversorging in. Kinders wat deelneem, word verder getoets oor dieresiektes,

terwyl hul verhouding met die dier beoordeel sal word. Die kategorieë bestaan uit skape, beeste, hoenders en bokke.

Die ouers wat ook die landbouskou gaan bywoon, hoef nie hulself te bekommer oor hoe om hul kinders te vermaak nie,

want daar is meer as genoeg aktiwiteite vir die jongspan. Kinders kan uitsien na die kindertent.

Sien ook daarna uit om prentjies in te kleur, op ‘n ponie te gaan ry, jou gesig te laat werf en klomp ander plaasdiere te gaan besoek en aan te vat.

Daar sal natuurlik ook ‘n springkasteel wees wat hul ure gaan besig hou. Die beste van alles, daar sal betroubare toesig wees vir die kleinspan. ’n Nuwe toevoeging wat deur klein, maar so ook groot geniet sal word, is die poppekas, aangebied deur Ymke van der Heijden.

Die vertoning van Jan en die Boontjierank, vind op 26 Oktober om 11:00 plaas, terwyl Rooikappie en die wolf om 14:00 wag om almal te vermaak.

Die Wes-Kaapse Boerboelklub bied op 26 Oktober ‘n boerboelskou aan wat jy nie wil mis nie.

Die bielie van ‘n hond, sal daardie dag sy beste poot voor sit vir die beoordeelaars, asook besoekers.

Besoek die Malmesbury-skou se Facebook-blad vir meer inligting en die perdeprogram.

Nomineer nou beste diens op Malmesbury

Nominasies vir die Malmesbury-sakekamer se Diensverskaffer van die Jaar-kompetisie word ingewag.

Die aantal nominasies het oor die afgelope aantal jare teen rasse skrede gegroei en vanjaar word daar weer rekord-nominasies verwag.

Besoek www.sakekamer.co.za en nomineer 'n onderneming wat aan jou uitstaande diens gelewer het.

Jou bron van goeie nuus

 

© Het Zwartland hou kopiereg op alle inhoud van hierdie webwerf en geen deel daarvan mag sonder die

bestuur se toestemming gekopieer word nie.